Page 4
Page 1 ] Page 2 ] Page 3 ] [ Page 4 ] Page 5 ] Page 6 ] Page 7 ] Page 8 ] Page 9 ] Page 10 ] Page 11 ] Page 12 ] Page 13 ]

4

"Die Baadjie wat ek dra…….."

Lospassend of nommerpas gemaak? Straks met blink goue knope net vir daardie ekstra "flair" om te wys dat dit nie net 'n sommerse baadjie is nie! Die bekende  en duur handelsmerk, hang ook nog so effens uit, kwansuis vergeet om dit af te knip! Dis immers ingevoer en daar is tog 'n effense bekommernis dat almal nie weet dat dit uit 'n eg Italiaanse modehuis kom nie.
'n Kleurvolle sakdoek uit die bo-sak, rond die duur tweed waarvan die skepping gemaak is volmaak af!
Daar is 'n bietjie ongemak met die dra van hierdie natuurlike weefstof wat getuig van styl en geld! Niemand mag hierdie skepping onderskat nie, altans nie die waarde daarvan nie, die baadjie vertel immers iets van die draer daarvan!
Lospassend, hiermee kan daar maklik mee beweeg word en die arms hoog gelig word. Daar is 'n bevrydende gevoel hierin geleë. Die moue nie te lank of te kort nie,  die snit nie tè hoog of tè laag nie. Die knope kan met gemak los of vas gedra word. Die kleur, 'n aardse kleur wat by alles pas en wegraak in die omgewing waar daar beweeg word. Dood natuurlik, net gewoon baadjie, wat ten doel het om warm te hou. Die stof, sinteties of eg,  maak nie regtig saak nie. Dit dien sy doel.
Nommerpas, in klassieke styl vir die ware vertoner van net die beste linnestof in die jongste styl gemaak kompleet met Franse knope of is dit straks van Spaanse afkoms? Niemand weet presies nie, maar die prys op die etiket is in dollar geskryf. Dit ruik en lyk duur.
Hoe lyk die baadjie wat u en ek dra? Is dit straks die werksbaadjie met 'n soomlose liefde wat aan beide kante gedra kan word, wat nie meer so nuut is nie, maar die tekens van die tye deurstaan het, maar nog sy doel dien? Die knope pas nie te styf nie, en die onderbaadjie is heel maklik sigbaar. Sy "label" hang nie uit nie, dit maak nie regtig saak wat dit gekos het nie. 'n Regte egte gebruiksbaadjie.
Miskien is hierdie hele "baadjie-storie" net 'n simpele metafoor, maar tog kan ons weer 'n slag na die doel van ons baadjie kyk. Is ek in pas met die ongemaklike styl wat niks van my onderbaadjie wys of wil wys nie … of dra ek doodgewoon my baadjie met sy oopvallende kraag sodat almal my onderbaadjie kan sien.
Straks dra hierdie hele "baadjie-ding" daartoe by dat ons weer 'n slag met ander oë na ons baadjies kyk en die manier waarop ons dit dra. Dalk is dit nodig dat die moue  langer of korter gemaak moet word,  of die soom of voering herstel moet word. Ja, daar mag selfs 'n knoop af wees.
Of dit nou 'n lospassende  of 'n nommerpas gemaakte een is, die feit bly, 'n baadjie moet ons dra. Die onderliggende fenomeen kan u  en ek self deurtrek tot op ons eie persoonlike vlak en net 'n slag seker maak dat die bobaadjie nie in skrille kontras staan met die verstoke onderbaadjie nie.
'n Verflenterde onderbaadjie, word straks agter die "duur" knope van die bobaadjie weggesteek.

Maria Stuurman, Francis Owies en Nico Swarts besig om hul "tool boxe" oop te sluit.

Mintos Marthinus, Florrie Muller en Katriena Williams by die "Neem Leiding in die werkplek"-kursus.

'n Vrot vrug was ook eenmaal 'n pragtige bloeisel
-CJ Langenhoven

Griewe, net soos onkruid, moet nie bemes word nie, maar uitgeroei word.

Die ergste liefde is die liefde vir kos.

Berigte en advertensies vir die volgende
uitgawe moet ons bereik teen 30 September en die volgende uitgawe verskyn
op 10 Oktober


Page 1 ] Page 2 ] Page 3 ] [ Page 4 ] Page 5 ] Page 6 ] Page 7 ] Page 8 ] Page 9 ] Page 10 ] Page 11 ] Page 12 ] Page 13 ]