|
Kowie Duwenhage van Riversdal, vroeër van Piketberg, skryf...
Ek het twee maande gelede in Die Piketberger gesien van Grease en ek het besluit ek kom. As Marnell sê ons moet kom kuier, dan sê ek sy moet wag, ons sal die naweek van Grease kom. 'n Maand gelede het sy toe vir ons kaartjies gekoop. Ek het vreeslik uitgesien na die naweek en ons het dit toe regtig baie geniet. Ek sou nog 2 ure gesit het, ek was jammer toe die einde aanbreek. Almal het so pragtig gedans en gesing. Nogmaals dankie vir almal wat betrokke was, vir wat dit vir my beteken het. Dit was ook so lekker om weer al die bekendes te sien, al het ek nie met almal gepraat nie, was dit so lekker saam met al die bekendes, net soos Sondag se erediens.
Magriet Lötter skryf… Lekkerte van die Here af:
Om met 'n saal vol kinders en toegewyde dames te staan en sing van God se liefde en hoe ek vir Hom kan getuig het my hele liggaam totaal hoendervleis laat uitslaan. My aandag is nog nie by die inhoud van die Kidz Kingfisher nie, ek is te besig om my te verwonder aan al die kinders en tannies. En dan sien ek die kleintjies. Hulle sing en sien niemand raak nie. Elke spiertjie word ingespan, want daar word vir Jesus gesing. Daar was 'n lekkerte om te weet ek het 'n paar moeilike situasies met wysheid hanteer - wysheid wat net van die Here af gekom het. Die dubbele lekkerte om te weet dat so baie toegewyde tannies en kinders elke aand daar was. En die grootste lekkerte om te weet daar was tannies wat dwarsdeur gebid het. Hulle het gesien wat aangegaan het en kon bid en die hele tyd met God gepraat het om vir ons in die bres te tree. My bewonde-ring vir God het weereens verdiep tydens die aanbieding van die Kidz Kingfisher in julle gemeente. Dankie vir die geleentheid wat my gegun is om saam met julle God se droom vir jul gemeente te help ontdek. Ek het julle ondersteuning en gebede baie waardeer. Vir die klomp geld wat my tot in Australië gebring het en terug is daar nie woorde voor nie. Julle spanleiers het die Kidz Kingfisher aangebied, ek het dit net gefasiliteer. Marietha, dankie vir jou huis en skouers elke aand. Marlien en Marietha, julle het 'n wonderlike span dames wat werklik deur God geroep is. Met baie baie baie waardering en liefde!
|
|