 |
 |
 |
 |
 |
 |
 |
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
 |
 |
|
|
|
|
|
Vakansie- en leeglêtyd is eers verby en ons kyk met nuwe oë na ons eie leefwêreld! ~~~
Met die wegdraai by die kus land in, wys die see vir oulaas die spierwit kant van sy onderrok en voel dit asof hy wil koggel: "Los my maar alleen, jy gaan die koelte van my mis!" Die splinternuwe 2003 word nou vir die eerste keer 'n realiteit as die son se strale oor die oosterkim lek en met toenemende intensiteit elke grashalmpie opsoek en verskroei. Dis 'n lekker warmte, want 'n goeie en warm somer, "voorspel 'n goeie winter" ... so glo ons by oorlewering! Ofskoon 'n vakansie daar is vir uitrus, is daar tog 'n tamheid te bespeur wanneer almal moedig probeer om aan die gang te kom. Daar is geen genade vir die druif- en vrugteboer wat met oorhaastige ywer sy oes moet insamel nie, want die versengende hitte is nie 'n vriend van 'n kwaliteit vrug wat so gou as moontlik sy pad moet vind na die tafel van die Europeër en Oosterling nie. Sonlig, diè lewegewende bestanddeel wat alles met fotosintese en vrugvorming te doen het, word skielik vir 'n wyle die vyand van die vrug wat hyself help vorm het. Dis asof die son in opstand kom as almal naarstigtelik en ywerig probeer om so vinnig as moontlik die oes voor hom weg te raap. 'n Stryd wat die mens teen die natuur veg om te red wat daar te redde is ... so gou as moontlik te oes wat daar te oes is! Daar word met nuwe oë en nuutgevonde insigte na ons eie distrik gekyk met sy eie unieke identiteit van 'n titseltjie van Mediterreensheid,Europeesheid en 'n gebied wat uiterste somertemperature trotseer en tog 'n mandjie met elke denkbare vrug ter wêreld voortbring. Geen waatlemoen smaak haas beter as juis Piketberg s'n en waar kry jy 'n geelperske, soos ons eie, wat in jou mond smelt? Dan vergeet ons nie die kenmerkende geur van ons druif ... ook wanneer dit in 'n bottel vasgevang is en deur wynskrywers aangeprys word as bekroonde wyne wat maar geneus en oor die tong met grasie gerol en as uitvoerkwaliteit geëtiketteer kan word nie. Ons staan opnuut verbaas vir hierdie distrik met sy vele seisoene bykans in elke dag. Ons koester opnuut ons eie bodem, want ons is lief vir Piketberg en sy omgewing! Blou branders met jou onderrok van spierwit omsoomde kant, koggel maar voort! Ons kom weer vir jou kuier, maar let wel, nèt kuier! Opnuut 'n voorreg om hier te woon en te werk!
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
'n Paar dinge oor die ewige Nuwejaarsvoornemens!!! Wie is die skuldige wat dit uitgedink het, sodat ons vir hom 'n paar petisie-e-posse kan stuur. Ongelukkig gaan dit te ver vir e-pos - na die Babiloniëers wat dit duisende jare terug begin het. Om 'n nuwejaarsvoorneme te breek is ook nie die ergste nie - almal het dit al gedoen en voor jy te veel wroeg, kan jy ook soos die Babiloniëers weer in Maart begin! Hulle het ook geglo dat wat jy op die eerste dag van die nuwejaar doen dwarsdeur die jaar invloed op jou gaan hê . Die ABC van verstandige voornemens vir die jaar:
Luister Aandagtig; Begroot voordat jy spandeer; As jy sê jy is 'n Christen, leef soos een; stel Doelwitte; bly Eerlik; erken jou Foute; Glo in God en in jouself; Help ander waar jy kan; stel Intregiteit eerste; hou op Jaag; Kommunikeer; Leer graag; beskou Mense belangriker as dinge; moet op niemand Neersien nie; werk saggies met alles en almal wat Oud is; wees Passievol met jou huweliksmaat; eet Queen-pynappels vir vitamine C; los Rook; Stap meer; bly Toegewyd; leer manipuleerders Uitken; koester Vriendskappe; praat die Waarheid; gaan vir Mammogramme en X-strale as jy moet; gooi genoeg Ys by die dop!!; Voeg beplanning by jou drome vir vakansie in Zanzibar.Om op te som: Maak dit maklik met die volgende:
Sê vir die mense vir wie jy omgee hoe belangrik hulle vir jou is. Leer iets nuut - gaan na die biblioteek of doen navorsing op die internet. Wees gesond en let op die manier hoe jy jou liggaam behandel. Maak tyd vir jouself en doen dinge wat jy geniet!!!
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
 |
|