|
BoE Bank sluit jaar spoggerig af
Die Weskusstreek van BoE Bank het gedurende Desember hul jaareindfunksie op Moorreesburg in die Stadsaal gehou. Ongeveer eenhonderd en vyftig mense wat personeel en gades van ses kantore verteenwoordig het die glansaand bygewoon. Die kantore is Vredenburg, Malmesbury, Moorreesburg, Piketberg, Clanwilliam en Vredendal. Die funksie was in die vorm van 'n aansit-ete en dans met die musiek wat deur die orkes van Frontline verskaf is. Dit is die tweede jaar dat die streek so 'n afsluitingsfunksie hou en volgens die streekbestuurder, Appie van der Merwe, was dit weer eens 'n groot sukses. "Nie alleen kan ons personeel lekker sosiaal met mekaar verkeer nie, maar kry ons die ge-leentheid om die afgelope jaar se suksesse met mekaar te deel asook erkenning te gee vir uitstaande prestasies," het Appie gesê. Toekennings is onder andere gemaak vir Kommersiële ban-kier van die jaar, Kassiere van die jaar, Sekretaresse, Rek. Administrasie, Fin. Administrasie en Bankiers-assistent van die jaar. Die plaaslike kantoor van die bank het uitstekend presteer toe hul bestuurder, Pierre Olivier, as Bankier van die jaar aangewys is terwyl een van sy assistente, Marianne Smit, een van die genomineerdes vir die afdeling was. Volgens Appie van der Merwe is hulle baie trots op die personeel van die Piketberg kantoor en was hulle die enigste kantoor wat alle gestelde doelwitte vir die jaar bereik het. Volgens Pierre Olivier was die toekenning 'n spanpoging en die resultaat van doelwitte wat reeds drie jaar gelede deur die personeel gestel is om hul diensleweringsvlakke tot hoë vlakke te lig. Pierre het ook die kantoor se kliënte uitgelig as een van hul groot bates. "Dit is 'n plesier om besigheid te doen met sulke lojale kliënte en hul ondersteuning word hoog op prys gestel", het hy gesê.
|
|