Page 15
Page 1 ] Page 2 ] Page 3 ] Page 4 ] Page 5 ] Page 6 ] Page 7 ] Page 8 ] Page 9 ] Page 10 ] Page 11 ] Page 12 ] Page 13 ] Page 14 ] [ Page 15 ]

15

Sy vee die klammigheid met die agterkant van haar hand van haar wange af - 'n onbeskryflike verlatenheid deel van hierdie windlose middag in Desember.
Al wat oorgebly het van 'n lewe van tien jaar in die huis met die groot stoep is die huishulp wat met haar bottel Handy Andy en geel opwaslap die laaste stof van die vensterbanke en deurkosyne moet afwas. Nog 'n drukkie en 'n opdrag of twee oor die sleutels, en sy klim in haar vriendin se wagtende motor wat haar lughawe toe moet karwei. Waarvandaan vlug SAL wie weet watse nommer haar weer Nieu-Zeeland toe moet karwei.
Sy emigreer - weg van die
violence en die werkloosheid en die hi-jacking en die hoë belastingkoerse en die sukkelende rand.
Sy is ontsettend braaf. Want ek krimp ineen voor die verliese van die siel.
Kgalakgadi, Etosha, die Kruger Wildtuin en die groot vyf.
KWV Roodeberg, die Bolandse Wingerde, Alto Rouge, Spier Landgoed en die vriendelike mense van Middelvlei.
Die Kaap in die winter, Tafelberg, Drie Susters, die Karoo se baie niks en Namakwaland se blomme, Piketberg, sy koringlande en baldadige vrugte-oeste.
Vatmaar, Distrik Ses, Theatre on the Bay, Coenie de Villiers, Theuns Jordaan en Jacques de Coning.
Hartenbos, Ladismith, Mosselbaai, Oudtshoorn en Hermanus en natuurlik wyd-soos-die-Heer-se-genade Namibië wat onlosmaaklik aan my hart behoort.
Kokerbome, koedoes, gemsbokke en kameelperde.
Afrikaans - elke oomblik, elke dag.
'n Bettie by Spar wat jou in jou eie taal jou inkopies help motor toe dra. Maria wat jou drie-jarige se bestelling vir 'n verjaardagkoek presies verstaan.
Daar is gelukkig oral 'n Spar - my suster vertel dat met 'n vorige ski-vakansie in Italië Spar se lekker brode hulle aan die lewe gehou het. Maar sê nou net ek is lus vir 'n melktert uit Ouma se Spens, of 'n potbrood of 'n lekker stukkie springbokbiltong?Ons bly maar vir eers net hier waar ons is. Herinneringe, foto's en een-keer-'n-jaar-besoeke is vir nou nie genoeg nie. Heel waarskynlik sal dit nooit genoeg wees nie. Vir nou voldoen die Afrika-son en die local Spar aan al my behoeftes. Voorspoedige 2003  Groete, Berenice

Piketbergers en die mense van ons omgewing kan van een ding baie seker wees - Boland Spar doen alles en nog meer om te sorg dat ons nie sommer net nog 'n inkopieplek is nie. 'n Bewys hiervan is dat Boland Spar onlangs tydens Spar Wes-Kaap se Algemene Jaarver-gadering in die tweede plek op die Spar Suksesleer aangewys is. Glad nie sleg as jy dink dat daar 105 Spars in die Wes-Kaap is nie, nê! Ons belofte aan ons kliënte is om ons diens steeds te verbeter, om by ons gemeenskap betrokke te bly en die vriendskapsbande stewig te hou.

Marlene Afrika, een van Boland Spar se vriendelike rakpakkers, is aangewys as Spar se Spanlid van die Jaar vir 2002. Lillian Afrikaner het die toekenning ontvang vir die spanlid wat die beste vordering in 2002 getoon het, en Irene Laubscher het die "Dink Kliëntediens" toekenning ontvang. Op die foto is Dean Jankielsohn, Irene, Lillian, Marlene en Tanya Jankielsohn.
 


Page 1 ] Page 2 ] Page 3 ] Page 4 ] Page 5 ] Page 6 ] Page 7 ] Page 8 ] Page 9 ] Page 10 ] Page 11 ] Page 12 ] Page 13 ] Page 14 ] [ Page 15 ]