Page 13
Page 1 ] Page 2 ] Page 3 ] Page 4 ] Page 5 ] Page 6 ] Page 7 ] Page 8 ] Page 9 ] Page 10 ] Page 11 ] Page 12 ] [ Page 13 ] Page 14 ] Page 15 ] Page 16 ] Page 17 ] Page 18 ] Page 19 ] Page 20 ]

13

Nuwe Intrekkers
In Piketberg


Die Claassen gesin van Postmasburg is sedert begin 2003 op Piketberg. Hulle het gou tuis gevoel en ervaar dat Piketberg se mense vriendelik en gasvry is. Van voor na agter op die foto is Clinton (graad 8),
JC en Michelle. Hulle belangstelling lê by motorfietse en hulle sal graag meer aan "Rallys" wil
deelneem.

Die Le Rouxs wat van Lutzville kom, woon sedert Augustus in Piketberg. Op die foto is die hele gesin, Marietjie, 'n derdejaar student op Wellington,  Pa Japie, Carine, 'n onderwyseres in Middelburg Mpumalanga, Ma Magda, Petronel en Endriëtte Kühn, wat onderwys gee in Londen. Die jongste, Petronel, is besig om matriek te skryf op Lutzville en beplan om volgende jaar ook onderwys te studeer op Wellington. Die hele gesin is versot op stap en lief vir die buitelewe. Japie het 'n vissersboot gekoop en gerestoureer waarmee hy en die dogters graag snoek en kreef vang. Magda verkies dan eerder om naaldwerk te doen. Die Le Roux egpaar het vinnig deel geraak van Piketberg gemeenskap en ingeskakel by verenigings.
Japie, die nuwe kaptein by die polisie, sê hy ondervind 'n welwillendheid by sy werk onder die mense en 'n positiewe gesindheid - die manne is lus vir werk. As kaptein is hy onmiddellik aanvaar in sy amp en kan hy met trots sê dat ook die reserviste en buurtwagte bekwaam en gewillig is en goeie opleiding ontvang het. Hulle lewer werk van 'n hoë standaard.

Kenneth, Ma Ilna, Jana en Pa Gerard Grobler. Ilna is rubriekskrywer en algemene verslaggewer vir die
Swartland en Weskus Herald en Gerard is redakteur en eienaar van genoemde koerant.

Waar kom die uitdrukking
"nuuskierige agie" vandaan?

Agie is uit Nederlands afgelei van 'n vroulike eienaam, Aagje, wat die verkleinwoord is van Aagt (waarvan die t nie uitgespreek word nie), wat weer 'n verkorting is van Agatha.
In 1679 is 'n klugspel
Kluchtigh Avontuurtje van 't Nieuwsgierige Aeghje van Enckhuysen deur A van Bogaert geskryf. In die storie gaan Aeghje, 'n skippersvrou van Enkhuizen, uit nuuskierigheid saam met haar buurman na Antwerpen en beland daar in die moeilikheid.
Bron: Etimologiewoordeboek van Afrikaans verkrygbaar by WAT, Posbus 245, Stellenbosch

Vir die Agies (verwys na bostaande beriggie)

In die verjaardaguitgawe het ons 'n brief geplaas van Suretha Kemp van Woodbury VSA. Die Piketberger het navraag gedoen oor haar verbintenis met Piketberg. Suretha skryf...
My familie bly op Koedoesvlei, 'n plaas buite Piketberg. My ouers is Schalk en Magriet Burger.
Ons bly in Woodbury 'n voorstad van die "Twin Cities" Minneapolis en St Paul. My man Hardy is 'n meganiese ingenieur en hy werk vir 'n maatskappy met die naam Chicago Bridge and Iron. Hy het vir die maatskappy gewerk in Suid-Afrika en is toe hiernatoe verplaas. Ek werk vir 'n maatskappy met die naam Oak River Technology as kwaliteits beheerder.

Schalk en Hannetjie Venter met SJ (links - 2 jaar) en Jaco (3 jaar) kom van Groblersdal, Mpumalanga en woon sedert September in Piketberg. Schalk het vanjaar sy elfde Comrades voltooi en beplan om in Januarie 2004 by PPC Klub aan te sluit. Hannetjie, wat vir 12 jaar verbonde was aan die SAP, hou haarself besig met allerhande kreatiewe handwerk. Sy sê Piketbergers moet begin uitkyk vir "Ouma Hannie se plekkie". Die vier Venters oefen graag saam - pa en ma hardloop en die seuns "hardloop" saam in hulle karretjies.


Page 1 ] Page 2 ] Page 3 ] Page 4 ] Page 5 ] Page 6 ] Page 7 ] Page 8 ] Page 9 ] Page 10 ] Page 11 ] Page 12 ] [ Page 13 ] Page 14 ] Page 15 ] Page 16 ] Page 17 ] Page 18 ] Page 19 ] Page 20 ]