|
Geduld of die gebrek daaraan
Jare gelede, in die tyd van die Inryteater, het 'n film een aand tydens 'n vertoning gebreek; iets wat nogal heel dikwels voorgekom het, nou dat ek daaraan dink. Alles was skielik in donkerte gehul en 'n mens kon jou voorstel hoedat die operateur daar in die hokkie waar die projektors gesetel is, spartel en spook om alles weer aan die gang te kry. Skielik het almal op hulle motors se toeters gedruk om hulle ongeduld in geen onduidelike taal te kenne te gee nie. Die operateur by die betrokke teater, was beslis nie op sy mond geval nie en het hy die volgende oor die luidspreker gesê: "Some people won't even hesitate to hoot at the gates of Heaven!" Onmiddellik het 'n doodse stilte ingetree en kon jy 'n speld hoor val! 'n Enkele paar woorde het mense tot stilte en waarskynlik … tot nadenke, genoop! Die mens het maar eenvoudig 'n ongelooflike ingeboude meganisme wat beslis nie geduld as oorheersende bestanddeel bevat nie! Natgesweet met waarskynlik 'n vreesaanjaende gevoel en met bewende hande, is iemand besig om die krisis te probeer oplos. In plaas van 'n gevoel van meelewing, is daar die skreeuende geskel van motortoeters! Mense wat voel dat hulle betaal het vir hierdie vertoning en dat hulle in ruil daarvoor waarde vir hulle geld wil hê in terme van die film wat moet draai! Teatergangers wat ten alle koste nie wil hê, nie wil toelaat, dat hulle geduld beproef moet word nie! Die geskreeu van hierdie motor sirenes het 'n besliste ondertoon van 'n gevloek en skel en was tekenend van die karakter agter die stuur van die motor. 'n Somber toneel in kontras met die tema van die film wat romantiek en liefde probeer uitspel! So laat ons daagliks toe dat ons humeur met ons die loop neem en word ons dikwels ook 'n aggressiewe opponent in 'n padwoede voorval of ons voel trots dat ons 'n argument gewen het! Die "film" van ons lewe begin weer rol net om 'n paar dae later weer te breek en ons tot uitbarsting en raserny te dryf! Soms reken 'n mens dat jy liefs die vertoning moet misloop waar die film die kans staan om te breek, maar voordat jy besef, het dit weer gebeur! So herhaal die rollende en draaiende lewensfilm homself! Vandag heel, môre stukkend en die vraag bly: Kan ons die toets van die tye weerstaan! Helaas, voor die Hemelpoorte, sal die loeiende geskel van die sirenes en toeters nie die oplossing wees nie! sal daar straks in stikdonker vir ewig gewag moet word!
|
|