|
PINKSTER 2004 -NG Kerk PIKETBERG!
Die aanloop tot Pinksterfees was voorafgegaan met sielsdeursoekende boodskappe deur 'n veteraan, maar deurwinterde prediker, Dr Jan Grey. Met ongelooflike entoesiasme en passie het hy telkens by die vraag uitgekom: Waar gaan jy heen as jy nou sou sterf? Hierdie vraag het tot menige gespreek en hierdie direkte en persoonlike vraag het nietemin nie meegebring dat mense in kleiner getalle die dienste bywoon nie, inteendeel, aand na aand was die bywoningsyfer beter en beter. Met sy ongelooflike kennis van die Bybel en veral ook van die Latynste en Griekse letterkunde, het hy mense aan sy lippe laat hang en tog ook mense laat skaterlag met paslike insetsels en vertellinge uit sy eie lewenservaring. Die vraag bly huiwer? … Hoekom sou mense nie afgeskrik wees deur sy direkte en intense vraag: "Waar gaan jy heen as jy nou sou sterf nie?" of "Ken jy God?" Skielik was daar 'n besef dat daar 'n opregte eerlikheid by mense aanwesig is as daar blatant op die vlak van hul geestelike lewe gepraat word. Mense wil seker wees, dit was beslis 'n kenteken van hierdie besondere week. In die tyd waarin ons lewe, wil almal sekerheid hê oor alles: Hulle werk, hulle finansies, hulle posisie in die samelewing en soveel dergelike dinge. Hoe werk die geheimenisse van die rekenaar, hoe word programme geskryf, hoekom gaan daar bepaalde flikkerligte in my motor aan, wat is die ware toedrag van my gesondheid en wat doen oefening en fiksheid aan my. Voortvloeiend hieruit, is dit geensins vreemd dat mense ook wil weet oor hulle geestelike welsyn, maar snaaks genoeg, dat hierdie eenvoudige "seker-wees-prosedure", so erg gekompliseerd en hartseer kan wees nie. 'n Eenvoudig Goddelik geinspireerde wilsbesluit wat die lewe totaal kan verander, maar helaas so 'n vreesaanjaende besluit. Met 'n feitlik bomenslike gawe, kom hierdie Jan Grey met sy praktiese geloofsbediening en skuif mense se lewens-ingesteldheid en bring hy talle tot 'n oortuigende verklaring. Vreesloos plaas hierdie man hom in die spervuur as hy oor twyfelagtige "fraaiings" praat wat niks met geloof te doen het nie. Hy is selfs bereid om tot 'n televisie debat toe te tree teenoor iemand wat kontak met mense maak "Van daar anderkant." Die hartseer is, dat hierdie man in sy eie lewe en in die van sy familie ook baie trauma beleef het, maar dit tog biddend met volhardende geloof kon oplos. Pinkster 2004 is nou verby. Pak Piketberg en sy mense nou met nuut verworwe oorgawe die lewenspad aan? So prakties as wat die preke saamgestel was, gaan daar net soveel praktiese uitlewing wees? Gaan daar vrug gedra word wat by die nuwe mens pas? Gaan die kerkgebou gepak wees, soos wat ons dit nou gesien het? Of gaan die voortwurmende lyn wat teen die vertikale balk op die grafiek na die wolke geklim het, skielik in 'n afwaartse tendens na die horisontale vlak beur? Mag die lieflike geur wat gesaai is, elkeen telkens noop om met 'n nuwe vaste tred oral die pas aan te gee en mag elkeen uitgeken word as iemand wat hierdie besondere tyd beleef het.
|
|