Die Vrouediens-diensgroep van die NG Kerk skryf...
Ons probeer om die geld wat deur die jubelmunte ingesamel word, aan te wend vir belangrike projekte. Soos julle kan onthou het ons verlede jaar komberse gebrei vir vigslyers. Hierdie jaar het ons besluit op truitjies vir vigslyers. In samewerking met die plaaslike hospitaal het ons die behoeftes bepaal. Nou sal u wonder wie brei alles. Die wol word gekoop en voorsien deur die Vrouediens en ons het knap breisters wat woon in Huis A J Liebenberg, asook dames wat in die dorp woon. Hierdie gewillige dames brei met soveel oorgawe dat dit onmoontlik is om genoeg wol te voorsien vir hul ywer. Ons wil graag aan elkeen wat gehelp het om wol in truitjies te omskep, hiermee baie dankie sê. Wees verseker dat ons weer op julle nommer gaan druk. Daar is 60 truitjies gebrei, 14 musse en 12 paar sokkies. Indien iemand wol het wat rondlê in 'n kas, kontak Hannie Visser by ( 913 2398 gedurende die aand. Dit sal dadelik benut word.
(Sien foto van sommige van die breiers links - Red.)
Hester Kotze en kinders skryf...
Baie dankie aan familie en vriende wat ten tye van Dirk se siekte en met sy afsterwe met liefde en deernis na ons uitgereik het. Julle gebede, besoeke, telefoonoproepe, kaar-tjies, blomme en praktiese hulpaanbiedinge word opreg waardeer.
Tannie Lena Kitshoff van Sandfontein Piketberg skryf...
Hartlik dank aan Marlene, Ohna, Herman en William vir die verrassingspartytjie met my 80ste verjaardag. Groot dankie aan Michaelene wat met die reëlings gemoeid was. Baie dankie aan al my vriende en familie wat die dag vir my so besonders gemaak het en vir die baie blomme en welkome geskenkies! Dit word opreg waardeer!! Aan ons Hemelse Vader al die eer vir my gespaarde lewe.
Piketberg Kankervereniging sê...
Baie dankie aan Johan Carstens wat namens AVBOB 'n hospitaalbed en 'n rolstoel geskenk het vir die pasiënte van die vereniging!
|