|
Suid-Afrikaner val Duitsland binne
Aan die einde van Junie het Niel van Eeden, gr.10-leerder van Hoërskool Piketberg, na Duitsland vertrek, waar hy in die suide by 'n familie geplaas is. Hy het in die dorpie Cadolzburg naby Nürnberg gewoon. Vandaar het hy saam met sy gasfamilie baie toere meegemaak. Onder andere het hy die Nazi-Museum, die Nürnberg-Kasteel, die ou stad Heilbronn en vele meer interessante plekke besoek. Van sy grootste indrukke is die skoonheid en organisasie van die land, die kinders wat soveel anders is en met ander waardes leef en natuurlik die pragtige meisies en heerlike kos en bier. Hy moes elke oggend met die trein en ondergrondse trein skool toe gaan, so hy was baie gou in staat om sy weg in Duitsland te vind. Die skool is natuurlik ook totaal anders as die Suid-Afrikaanse skole, met die verskil in dissipline wat die meeste uitgestaan het. Tog was die klasse vir hom baie interessant en was hy gou in staat om gesprekke te volg, maar natuurlik was die Engelse klas die lekkerste een. Hy het so geheg geraak aan sy familie dat ons al oor twee weke sy gasbroer, Henrik Haas, hier in Piketberg gaan verwelkom. Een probleem egter is dat Niel se verblyf in Duitsland sy lojaliteit aan Suid-Afrika erg beproef het en dat hy nou oorweeg om na sy studies na Deutschland te verhuis.
|
|