Page 10
Page 1 ] Page 2 ] Page 3 ] Page 4 ] Page 5 ] Page 6 ] Page 7 ] Page 8 ] Page 9 ] [ Page 10 ] Page 11 ] Page 12 ] Page 13 ]

10

Kanker - Chemo - Herstel?
Erika Brits

'n Siekte wat met iemand anders gebeur? Jy is nooit te jonk, te oud, te lelik of te mooi, te ryk of te arm nie. En dit kyk ook nie na jou status nie. Nee, dis 'n siekte wat soos 'n ontroue waghond lê en wag om jou onverwags te byt wanneer jy dit die minste verwag en kan met elkeen van ons gebeur. Daar is glo meer as 'n 100 soorte kanker. Die teken van kanker is gewoonlik in die vorm van gewasse. My radioloog noem die gewasse goed en sleg. Die goeie word uitgesny en geen behandeling is nodig nie. Die slegte is kwaadaardig, dus kankergewas en word ook met bestraling of chemo behandel om te verhoed dat dit sprei. Na en dikwels voor die operasie het jy of bestraling en/of chemoterapie nodig. Sommige gewasse kan nie uitgesny word nie en kry slegs behandeling. Twee van my gewasse was kwaadaardig en ek moes chemoterapie ontvang om te verhoed dat dit sprei. Hoe kan dit sprei? Die ginekoloog vergelyk dit met 'n bossie wat uitgetrek word en 'n paar wortels bly agter sonder dat hul dit weet en sodoende kan die kanker weer groei. Om dit te verhoed kry jy chemoterapie.
Ek is deur die trauma van pyn vir 7 maande en pynpille daagliks. My liggaam het vir my gesê iets drasties is verkeerd maar geen ondersoek of toetse kon enige fout vind nie. Ek het presies dieselfde simptome as met 'n spastiese kolon, met die verskil geen medikasie help nie. In my agterkop was die vraag pal: is dit nie kanker in my vrouedele nie? Sommige sê dink positief! My instink was toe reg. Al vra 'n ginekoloog vir jou of jy 'n dokter is dat jy jouself kan diagnoseer. Jy ken jou liggaam. Jy lewe gesond. As so iets uit die bloute met jou gebeur weet jy iets groot is fout met jou. As jy in jou oorgangsjare is en jy vloei buitensporig ens, noem dit aan jou ginekoloog/dokter. Dit is 'n teken van baarmoederkanker. Ons skryf te veel veranderings toe as deel van ons oorgangsjare. Gereelde groeisels op jou eierstok kan moontlik lei tot eierstokkanker. Hul noem dit die stil dood. My eierstokkanker was van die minder bekende en baie aggressiewe kankers. Toe niemand my dringend in 'n Staatshospitaal kon kry vir 'n
operasie nie, het ek net gevra dat die Here nou moet oorneem en help. Hy het. Tien dae later is ek geopereer. Sy hand was oral tydens my siekte te bespeur. Tydens my operasie het die hospitaal gare aangekoop wat breek terwyl die dokters die wonde toewerk. My operasie het goed afgeloop. Sien selfs Staatshospitale neem nie meer pasiënte in tensy hul kan betaal vir 'n operasie nie of 'n noodgeval is. Ek kan net die Here dank dat Hy as die Groot Geneesheer bygestaan het en heelpad by my was.
Van die operasie en behandeling was die hospitalisasie vir my die ergste. Jy kry nie 'n oomblik rus nie. Die was- en toiletgeriewe in sekere afdelings van die Staatshospitaal toon 'n dramatiese agteruitgang en is onhigiënies omdat sommige pasiënte se standaarde so grensloos verskil van ander en die skoonmakers nie hul werk doen nie. Die dokters en verpleegpersoneel is wonderlik, veral die ginekoloog wat my behandel en opereer het.
Vier weke later kry ek my uitslag - kanker en ek moet vier baie sterk chemoterapiebehandelings ontvang. Die uitslag skok my tot in my tone en gedagtes en vrae fladder deur my verstand terwyl die radioloog verduidelik. Gelukkig is manlief by om te onthou wat ek nie ingeneem het nie. In my hart het ek altyd gehoop en gebid die dokters se subtiele waarskuwings is verkeerd, hoewel my verstand gesê het hulle is reg.
Ek word gewaarsku my hare gaan na my eerste behandeling uitval. Dit het ook. Die res van my liggaamshare het ek eers na die tweede behandeling geleidelik begin verloor. Ek borsel een oggend my hare toe is my borsel vol hare, toe ek dit die volgende dag was, is die wasbak vol hare. My oogwimpers en wenkbroue val so geleidelik uit dat ek dit eendag met 'n skok besef. Af en toe besluit een van my 3 oorblywende wimpers om in my oog te beland, dan weet ek daar is darem nog 'n paar oor. Ek leer om daarmee en met my hoofbedekkings saam te leef, want ek weet dit sal weer regkom. My gesig kleur ek maar in, anders lyk dit te vaal.
Met elke chemosessie voel die berg hoër, maar met die Here se wonderlike bystand kom ek daaroor, want my God is so groot, so sterk en so magtig daar is niks wat my God nie kan doen. Met geloof en totale aanvaarding bly ek positief. Ek voel sommige dae as ek na myself in die spieël kyk, neerslagtig, maar dis gelukkig selde. Weens al die veranderings aan my liggaam voel ek onvroulik en baie dae was ek lus om net kop toe te trek en niemand te sien nie. Maar vir selfbehoud het ek opgestaan en aangegaan met daaglikse take.
Na my eerste twee chemos was ek baie siek, want my operasiewonde moes ook genees so tussen die chemo deur. Ek besef eers later dat met die gesonde selle wat deur chemo afgebreek word, die wonde langer neem om te genees. Vir sewe dae na chemoterapie was ek naar. Die chemo is eers na 10 dae uitgewerk. Met my 3de en 4de chemo, het ek al geweet wat om te verwag, maar dit het dit nie makliker gemaak om daar deur te kom nie.
Watter newe-effekte het chemoterapie op jou liggaam? Ek het geen eetlus gehad nie, ek was naar en het voetprikkels gekry - ek het gedog dis soos naalde- en speldeprikkels, maar dis meer soos om jou yskoue voete in warmwater te ontdooi en jou bene voel rusteloos - jy kan nie jou lê kry nie. Die are in my arms het ontsteek van die chemo. Daarvoor help Voltaren salf. My naels het riffels gemaak en verkleur. Ook het dit maklik gebreek. My smaak- en reukorgane was ook nie meer dieselfde nie - enige kos het nie juis smaak nie en ek ruik goed wat ander nie ruik nie. Parfuumreuke het my geïrriteer - dit kom darem na die laaste terapie geleidelik terug. Sommige kosse kon ek nie eet nie. Ek is skoon mislik net om daaraan te dink. Soms was ek lus om my bolip soos my hond te lig as ek kos sien. Ek leer gou wat ek kan eet. Ek is by tye soos 'n verwagtende vrou. Ek kon bv. nie sjokolade of koekversiering eet nie, maar is belustig vir aartappelskyfies en vrugte. Dan raak ek weer skoon belustig vir iets anders. Ek kon die meeste kruie eet, maar nie speserye nie. Ek het koue voete in warm weer gehad. Sommige mense kry mondsere of mondsproei. In warm weer kon ek kaalkop slaap of sonder hoofbedekking in die huis rondloop, maar soos die nagte kouer word was my voorland 'n "nagmus" want my kaalkop kry koud. Ek het 'n lopende neus soos 'n kraan sonder water. My tong het barsies gehad wat bitter seer was. Gelukkig het ek my vit.B pille gereeld gedrink. Die dokter verduidelik op navraag dat jou tong barsies toon weens 'n tekort aan vit. B. O, en die ewige winde wat so seermaak! Sommige is hardlywig ander kry diarree. Ek leer om my aan te pas by omstandighede deur die genade van Bo en onderskraging van gebede, besoeke en oproepe van vriende en kennisse en Bybelstudiegroepe.

(Vervolg in die September uitgawe)


Page 1 ] Page 2 ] Page 3 ] Page 4 ] Page 5 ] Page 6 ] Page 7 ] Page 8 ] Page 9 ] [ Page 10 ] Page 11 ] Page 12 ] Page 13 ]