|
|
|
|
|
|
WESKUS KINDERKUNS GESOEK! R5 000 IN PRYSE!
Die Weskus Kinderkuns kompetisie dek die tradisionele basiese Weskus van Atlantis in die suide tot Alexanderbaai in die noorde. Die doelstellings is om by plaaslike leerlinge 'n belangstelling in hulle eie omgewing en die Weskus as geheel te skep en hulle dit te laat uitbeeld in realistiese kuns (pen, verf, potlood, houtskool ens). Die wenners en verdienstelike werk word opgeneem in die "Weskus Storie- en Kunsboek" wat beplan word voor die 2004 Blommeseisoen. Ook bevordering van die kuns op promosie-artikels. Verder om volwasse Weskunskuns wyer bekend te stel. Die projek word gekoördineer deur Ernie Mellet, 'n bekende in Sandveld toerismekringe. Dit word ondersteun deur Mnr. Mike Fabricius van Weskaap Toerisme. Die tydperk van die wedstryd is van 12 Augustus tot 31 Oktober 2003 sodat dit beide winter- en lentetonele kan insluit. Die wenners word aangekondig voordat die skole op 5 Desember 2003 sluit. Leerlinge van alle departementele en privaatskole in die gebied mag deelneem. Verkieslik moet (kuns) onderwysers of ouers avontuurtogte na interessante plekke in hulle eie omgewing reël en betrokke wees om inskrywings in te dien. Deelname is gratis en die aantal inskrywings word nie beperk nie. Pryse en Afdelings: R5 000 word versprei oor drie onderwerpe en ouderdomsgroepe: Afdeling (a) SEETONELE, (b) LANDELIKE TONELE en (c) DORPSTONELE. Tonele moet realisties uitgebeeld word sodat dit herkenbaar is. Geen aftekening van bestaande kommersiële poskaarte, almanakke en toerismebrosjures mag ingeskryf word nie, maar leerlinge mag hulle eie of hulle familie se foto's gebruik as basis. Grootte: 21x30 cm (A4) tot ongeveer 50x60 cm. Ouderdomsgroepe: Onder 13, 14-16 en 17 tot 19. (Indien inwoners help om borge te bekom uit eie geledere/besighede kan die prysgeld verhoog). Volwasse/professionele kunstenaars kan ook betrokke raak deur Weskuskuns te skenk as pryse sodat kinders rêrige kunswerke kan wen. As teenprestasie word hierdie kuns ook in die Weskus Storie- en Kunsboek gereproduseer). Meer inligting oor hierdie interessante projekte word gedurende Augustus aan skole en ander moontlike ondersteuners gestuur. Navrae: Ernie Mellet ( 021-591 8658 (na 7 saans). 7 021-430 8418 Â melletej@sabc.co.za
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Nuwe Natuurpaaie geopen
Twee nuwe voetslaanpaaie is onlangs by Uitkyk en Achterdamplase in die kom, wes van die Piketberge, geopen. Dit is deel van Bergrivier- en Verlorenvlei Natuurpaaie se projek om die Velddrif-Piketberg-Elandsbaai Driehoek as die nuwe natuurpadstreek van die Weskus te vestig. Meer besonderhede is te kry by Ernie Mellet ( 021-591 8658 na 7-uur saans. Die Blou Skoenlapper Voetslaanroete (en 4x4) is uitgelê op die Driefonteinberg van die suurlemoenplaas Uitkyk met sy bekende Sandveld Kothuisies. Die 5-uur gemiddelde stap het veral mooi uitsigte oor die Piket-, Aurora- en selfs Sederberge. Stappers benodig hulle eie water. Besprekings: ( 022-962 1655. Die Kliphoutkrans Voetslaanroete is naby die Auroraberg op die plaas Achterdam ingestel. Die gemaklike 4-5 uur stap gaan deur 'n wye verskeidenheid fynbos en rotsformasies met name soos die Bobbejaanbalkon, Sfinks, Verlore Stad, die Meerkat en die Maltese Kruis. Stappers moet hulle eie water saamneem. Verblyf is beskikbaar in 'n karaktervolle kliphuisie. Besprekings: ( 022-952 1864. Ander (groep) akkommodasie is 3 km daarvandaan.
|
|
|
|
|
|