Page 5
Page 1 ] Page 2 ] Page 3 ] Page 4 ] [ Page 5 ] Page 6 ] Page 7 ] Page 8 ] Page 9 ] Page 10 ] Page 11 ] Page 12 ] Page 13 ]

5

Piketberg Blom- en Tuinbouklub

Duitse uitruilstudente by PHS

27-30  Augustus: Piketberg Skou  Inskrywings vir blomme rangskik- en snyblomafdelings by
Vanessa Beautemont
( 022 914 5015
10 September: "Probleem Areas in die Tuin"  Gasspreker Phillip Scott. Piketberg Biblioteeksaal om 09:00
Besoekers betaal  R10.  Leersame aanbieding. Kom gerus!
15 Oktober: Kaapse Tafel"  Dinee & Blommedemonstrasies te Stellenberg.
Kaartjies: Elbeth Liebenberg,
( 022- 913 1643.

Rose

Diegene wat rêrig glo daar gaan nog baie reën wees of nie bang is vir waterrekeninge nie en nog nie hulle roosbome uitgehaal het nie, kan steeds hulle rose snoei. Volgens Prof Kristo Pienaar is tot 11 Augustus in die Wes-Kaap nog 'n goeie tyd hiervoor.
Hier's sy roosspuitmengsel: 10 liter water; 45 ml asyn (help sistemiese gif om beter te penetreer); 15ml opwasmiddel (dien as kleefmiddel);15 ml Blitox (vir swamme); 15 ml Metasystox óf Malathion (vir insekte); 15 ml Nitrosol óf Kelpak óf Seagro (blaarvoeding).

Grasperke

Grasperke kan nou hulle lente behandeling kry.  Hark gras deeglik, knip/sny grasrankies wat opsteek gelyk. Belug die grond met 'n holtandvurk of gewone vurk wat diep in die grond gesteek word.  'n Nuwe bolaag kan nou of verkieslik 'n maand hierna toegedien word.  Gee gras ook 'n kunsmistoediening van 50g 2.3.2 (22) per vierkante meter.

Die Augustus Tuin

Beplan vir 'n meer waterbesparende tuin. In plaas van groot grasperke kan u areas herontwerp en gruis, klippe,  plaveisel of geharde grondbedekkers gebruik.  Soek droogtebestande inheemse- of Mediterreense plantsoorte vir u tuin.  Vetplante is nou baie in die mode. Dink 'n bietjie aan rotstuine of  gebruik dieselfde soort vetplantjie om die
buiterante van formele beddings te beklemtoon.  Skep 'n outydse "knot garden" van vetplante.
Dit is nou 'n baie geskikte tyd om bome en struike te plant, meerjariges te verdeel en steggies te maak.   

Wilmaré en Rouxsanne van Wyk saam met Annegret Thümmler (middel), Duitse uitruilstudent, wat by die van Wykgesin tuisgegaan het.

Sandra van Wyk skryf op ons versoek 'n paar indrukke oor Annegret Thümmler, die Duitse uitruilstudent wat by haar tuisgegaan het.

Annegret Thümmler het nie draaie geloop tot in my hart nie-sy't reguit ingestap!
Natuurlik het 'n mens voor die tyd gewonder oor wat 'n besoek van dié aard nou regtig vir jou inhou. Vandag,  amper 'n maand later, weet ek dit was een van die mees verrykende ervarings van my lewe. Vier weke wat te gou verby gegaan het en wat ons as gesin, met 'n warm gevoel om ons harte sal bybly.
Daar's so baie wat 'n mens sal onthou, so baie wat jy graag wil deel - tog, as ek in kort iets moet uitsonder om Annegret te beskryf, is dit haar fyn humorsin en die blatante eerlikheid waarmee sy elke dag aangedurf het. Dan weer dink ek aan haar onuitputlike bron van energie. Vir 'n maand lank het ek nie aan 'n boek geraak nie -as sy gevra het; "Shall we go for a walk with the dogs?"-het sy eintlik bedoel sy wag vir my onder op die gras. Dit was maklik om haar tevrede te stel en nóg makliker om haar lief te kry-dat sy eers vreemd was is nouliks denkbaar.
Ek het Annegret báie swaar gegroet-met die waarskynlikheid dat ek haar nie weer gaan sien nie, maar met die hoop dat dit tog nie onmoontlik is nie.
Dit is vandag baie stil in Proteastraat 3 en die huis is onverwags leeg sonder die sprankelende blou-oog Duitsertjie. Maar ons harte is vól en ons mis reeds vir Grietjie!


Page 1 ] Page 2 ] Page 3 ] Page 4 ] [ Page 5 ] Page 6 ] Page 7 ] Page 8 ] Page 9 ] Page 10 ] Page 11 ] Page 12 ] Page 13 ]